Spelterapie – Wat is dit en hoe werk dit?

Spelterapie – Wat is dit en hoe werk dit?

Vir baie mense is dit ‘n verrassing om te hoor dat psigoterapie of emosionele terapie met kinders so jonk as 4 jaar oud gedoen kan word.  Die wonder daarvan om kinderspel as medium te gebruik, hang saam met die konsep dat om te speel die kind se natuurlike taal en wyse van kommunikasie is.  Spel verteenwoordig vir die meeste kinders wat taal vir volwassens is.  Daarom kan ‘n kind hom- of haarself baie beter in spel uitdruk as in ‘n onderhoud waarin daar van formele taal gebruik gemaak word.

 

Die Spelterapie omgewig

Kinders voel van nature baie meer gemaklik in ‘n omgewing van speelgoed, waar hy homself vryelik kan uitdruk, eksperimenteer en leer.  Spelterapie as medium verskaf ‘n proses waardeur emosionel reiniging / heling kan plaasvind.  Die kind kan bv. frustrasies uitdruk sonder om daaroor veroordeel te word en vir die volwassene gee die spelterapie-sessie ‘n beter begrip van wat in die kind se leefwêreld aangaan.  Die Spelterapiekamer word dus ingerig met verskeie media / speelgoed / items waarmee kinders graag en van nature kan en wil speel, fantaseer of eksperimenteer.

Alle aspekte van kind-wees kan deur middel van spelterapie gehelp word:  fisiese, emosionele en kognitiewe ontwikkeling, sosiale ontwikkeling en interaksie, geestelike of spirituele betekenisgewing en ontwikkeling.  Baie hiervan vind op die onbewuste vlak plaas, m.a.w. sonder dat die kind dit doelbewus beplan of manipuleer.

 

Die rol van die Terapeut

Die terapeut se rol kan wissel na gelang van die verlangde uitkoms wat met die terapie bereik wil word.  Tydens spontane spel het ‘n kind die vryheid om self te kies waarmee gespeel word, bloot omdat hy wil speel.  Dit word gesien as ‘n belangrike deel van ‘n kind se ontwikkeling en behoort baie klem en aanmoediging te kry.  Kinders moet speel!

Met begeleide spel word daar gekonsentreer op die toestemming wat die kind binne die speelkamer het om self te kies waarmee hy wil speel, sonder dat die terapeut voorskritelik is.  Binne hierdie opset het die kind vryheid om homself te geniet en te ontspan in die teenwoordigheid en betrokkenheid van die terapeut.

Assesserende spel word gebruik om ‘n bepaalde doel te bereik, bv. om onthullings en feitelikhede te fasiliteer.  Hier is gewoonlik ‘n tydsraamwerk ter sprake.  Dit het ook waarde wanneer daar bv. besluite geneem moet word oor wat in die beste belang van die kind is.

Gefokusde spelterapie is dikwels die uitvloeisel van ‘n assessering of wanneer daar baie inligting aangaande die probleemareas in die kind se lewe bekend is.  Die spelterapie-sessies kan dus rondom ‘n bepaalde probleem of konsep saamgestel word (gefokus word).

 Kindgesentreerde spelterapie het ten doel om die kind te volg – m.a.w. die terapeut se fokus is op dit wat die kind doen, die gedrag en emosies wat getoon word.

Met Kindgesentreerde spelterapie word van die terapeut verwag om ‘n vriendelike, warm terapeutiese verhouding met die kind te vorm, waarbinne die terapeut non-direktief kan wees. Binne hierdie verhouding beleef die kind dat hy onvoorwaardelik aanvaar word en dat hy sy gevoelens sonder voorbehoud kan uitdruk, sonder vrees vir veroordeling.

Die rol van die terapeut is verder om die kind se gevoelens terug te reflekteer aan die kind, deur bv. emosies te identifiseer en die kind sodoende te help om dit te eien en te verstaan. Op hierdie manier kry die kind begrip vir sy eie gevoelens en word die vaardigheid ontwikkel om sy eie emosies en probleme te hanteer.  Binne hierdie raamwerk van spelterapie wend die terapeut geen poging aan om die kind se aksies, gesprekke of gevoelens te beheer nie.

Die terapeut kan ook nie die vordering van die kind binne terapie verhaas of bespoedig nie, aangesien die kind sy eie pas van ontwikkeling bepaal. Die terapeut stel slegs beperkinge wat nodig is, bv. deur die kind bewus te maak van sy eie verantwoordelikhede in die terapeutiese verhouding.

 

Onvoorwaardelike aanvaarding

Een van die sleutelaspekte van Spelterapie is die kind se belewenis dat hy/ sy onvoorwaardelik deur die terapeut aanvaar word, ongeag hoe hy/sy voel.  Tydens die terapie beleef hy dat hy nie gekritiseer of bevraagteken word nie. Hy beleef respek daarin dat hy self die pas aangee – die terapeut probeer nie om hom te lei of te beheer nie.  Vir die ontwikkeling van outonomiteit en selfaktualisering is dit ontsaglik waardevol.  Die perke en grense wat in die terapiekamer gestel word, het ten doel om die kind te beskerm, menswaardigheid en respek vir lewe te bevorder en om die kind te lei tot aanvaarding van eie verantwoordelikheid.

 

Kontak FAMSA

054 332 3955

 

 

Samesteller:  Therina van Schalkwyk (Sielkundige, Famsa Kathu)

Bronne:  Axline, V.M.  Play Therapy; West, J. Child-Centered Play Therapy

Share this post

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *